"Oud maar nog lank nie koud" - Netwerk24 Feature

Posted on Thu June 2, 2016.

Dit is nie elke dag dat ’n mens dekades oue wyne saam met Suid-Afrikaanse wynlegendes kan proe nie. Winifred Bowman, ’n Kaapse wynmeester, deel haar ervaring van dié goue oues (dis nou die wyn).

Die voorreg om uitsonderlike ou wyne oor my lippe te kry, het hom onlangs voorgedoen met ’n uitnodiging van Graeme Falck en Sonja Hellinger van Courchevel in Franschhoek.

Oud maar nog lank nie koud

Dit is nie elke dag dat ’n mens dekades oue wyne saam met Suid-Afrikaanse wynlegendes kan proe nie. Winifred Bowman, ’n Kaapse wynmeester, deel haar ervaring van dié goue oues (dis nou die wyn).

Die voorreg om uitsonderlike ou wyne oor my lippe te kry, het hom onlangs voorgedoen met ’n uitnodiging van Graeme Falck en Sonja Hellinger van Courchevel in Franschhoek.

Falck het ’n versameling ouer Suid-Afrikaanse wyne bekom en wou dit deel met belangstellendes, asook met diegene wat by die produksie daarvan betrokke was. Die versameling was die eiendom van wyle Kosie Botha, ’n Coetzenburg-hoteleienaar en wynversamelaar. Hy het die wyne langer as 40 jaar sorgvuldig in ’n donker kelder laat verouder.

Danie de Wet, eienaar van De Wetshof by Robertson, het die verrigtinge begin met: “Vandag maak ons ’n venster oop wat meer as 40 jaar toe was. Ons is bevoorreg om van die manne wat hierdie wyne gemaak het, by ons te hê en hul hande te kan skud!”

Die lys sou elke wynliefhebber se mond laat water. Dit het wyne ingesluit soos Lanzerac Cabernet 1960, Lanzerac Pinotage 1963, Chateau Libertas 1970, Verdun (tans Asara) Gamay 1980, Zandvliet Shiraz 1975, Zonnebloem Shiraz 1978, Alto Cabernet Sauvignon 1971, Nederburg Selected Cabernet 1968, Rustenburg Dry Red 1969 en Oude Libertas Pinotage Superior 1973.

Die geboorteplek van groot wyne

Duimpie Bayly, wat in 1962 by die Stellenbosch-Boerewynmakery (SBW) begin werk het, het verduidelik dat die druiwe hoofsaaklik van Stellenbosch en die omgewing afkomstig was. Daar was ses koöperatiewe kelders, naamlik Bottelary, Koelenhof, Vlottenburg, Helderberg, Welmoed en Eersterivier. Druiwe is ook van Kanonkop, Overgaauw, Hartenberg, Bellevue en Uiterwyk aangekoop. Cabernet sauvignon-druiwe was meestal van bosstok-oorsprong en het besonder klein korrels gehad. Bayly lag as hy vertel hoe die korreltjies dikwels in die meul vasgesit het. Om dit “los te maak” is onbepaalde hoeveelhede cinsault bygevoeg!

“In daardie dae was daar nie reëls vir etikettering om die aantal bepaalde druifsoorte te noem nie; ook nie die Wyn van Oorsprong-klassifikasie nie.”

Volgens Johann Krige van Kanonkop was die eerste en laaste tien wingerdstokke in elke cabernet sauvignon-ry tot so onlangs as 25 jaar gelede met cinsault beplant. Toe hy dit wou uittrek, het sy vrou dit teengestaan, want dit was vir haar jaarlikse korrelkonfyt-kokery bestem!

WYNE WAARVOOR JY OPSTAAN – VERAL AS DIT OUER AS JY IS.

Die eerste wyn wat geproe is, was die Lanzerac Cabernet 1960. Lanzerac was oorspronklik ’n handelsmerk onder die SBW-vaandel. Daar was wel klein druifaanplantings op die landgoed Lanzerac. Die destydse eienaar, David Rawdon, het ’n ooreenkoms aangegaan om die druiwe aan SBW te lewer.
“Dit was maar min,” sê Bayly. “Ek kon die hele oes self opgedrink het!”

Hy vertel ook Lanzerac was die groot drinkplek van die studente en dat baie van hulle naweke vir sakgeld daar in die kroeg gewerk het.

Die wyne is daardie jare in oop sementkuipe gemaak; sonder verkoeling of tenke van vlekvrye staal; met ’n standaard-“resep” van ’n konfytblik (of twee) wynsteensuur by die druiwe sodra dit afgelewer is. Dan is die wyn ná gisting in groot eikehoutvate verouder.

Almal by die proe was verstom oor die helder kleur van die wyn, die varsheid en die behoud van die vrugtige geure.

“Soos fluweel!” het Johann Malan van Simonsig gesê.

Nog ’n uitstaande wyn was die Chateau Libertas 1970. Volgens Bayly was dit sy huiswyn wanneer die Tassenberg op was! Sy gunsteling- Chateau Libertas is nog die 1959, maar sy bottels raak nou min. Chateau Libertas het ’n lang geskiedenis by die Tabernakel (Distell se wynbiblioteek) sedert 1940. Die meeste van die druiwe is ingekoop, en die versnit was meestal cabernet sauvignon en cinsault.

Die 1970-weergawe het goed vertoon met uitstaande kleur, speseryagtige geure en baie elegant – werklik voortreflik.

Krige vertel dié storie van sy oorlede oupa Paul Sauer, ’n politikus en direkteur van die SBW: In die laat 1960’s het Sauer graag die ministers (onder andere die eerste minister B.J. Vorster) Sondae vir middagete na Kanonkop genooi. Daar was altyd Tassenberg op die tafel, tensy daar ’n gas was wat gelyk het asof hy iets van wyn weet. Dan het Sauer statig en stadig opgestaan, na ’n geslote kas in die hoek gegaan en ’n bottel Chateau Libertas uitgehaal.

Dit is inderdaad ’n skatkis van wyngeskiedenis wat hier oopgemaak is.

Die wyne kan by www.­rarewines.­co.­za besigtig word.

 

Artikel beskikbaar by: http://www.netwerk24.com/Ontspan/Kos-en-Wyn/oud-maar-nog-lank-nie-koud-20160531